My Stokperdjie- My refleksie

Ek het twee dogters wat met verf, musiek en dansskoene uit die baarmoeder die wêreld van kleur en potensiaal betree het.  Wie se talente is dit? Nugter weet, dalk het ek so klein aandeeltjie in die musieklikheid. Maar dans? Verf en skets, mmm? Nee, ek was nie daar met dié uitdeelslag!  Maar ek het myself al ‘n duisend maal die mooiste helderkleurige moderne landskappe sien verf en net die dagdroom daaraan laat my voete vuiste in my skoene maak van lekkerte!

Tog besluit ek op ‘n dag om ‘n kwas op te tel.  ‘n Skoenlapper was die tema van my poging tot skilder. My gemoed was donker  daardie middag.  Ek het tòg die doek neergesit met groot afwagting en begin verf.  Maak nie saak watter kleure ek gemeng het nie, die eindresultaat het alles getuig van hoe ek voel.  Die skoenlapper moes helder groen en oranje gevlerk het, maar my kwas het bly olyfgroene en bruine op haar vlerke “blob”.  Moedeloos het ek haar bekyk en al wat ek kon sê was:  “Liefie jy moes ‘n pragtige skoenlapper gewees het, en nou het ek jou ‘n mót gemaak!”

God het presies geweet aan wie en wat Hy sekere gawes gee om daarmee sin in lewe te bring. Juis, wanneer donker dae ons lewe kleurloos wil verf.  My vriendin Jackie het nog altyd die vermoë gehad om baie diep in my gees met haar skilderkuns te kommunikeer. Sy mág maar! Nou kyk ek na haar werk in my huis, en maak onmiddellik kontak met my emosies van hartseer, vreugde, ekstase en soms leer ek nuwe lesse.  Dus my stokperdjie, om kunsgallerye en uitstallings te besoek, van kunstenaars wat bereid is om eerlik en outentiek te wees.

Wenk:
Ons stokperdjies staan in diens van Godgegewe vermoë  om mooi te skep en te kan waardeer, sonder vergelyk. Dit moet vir ons die spieël word van ons eie binnewêreld, refleksie van ons ware gemoedstemming.  So sien ek dit wat ek nie kan verwoord, gevisualiseerd voor my in die kleur of tekstuur van my gemoed. Laat toe dat jou stokperdjie jou, jouself laat  ontdek – Die Meester het ‘n meesterstuk geskep, en dis JY!