Kyk van bo af

Jare gelede, het ek as predikantsvrou in Glenharvie, 'n klein dorpie, in die Westransvaal (daardie tyd), gewoon. Sal ek ooit die dag vergeet toe ons so deur die heuwels aangery kom na hierdie vaal dorpie en ek gedink het..."wat het God verkeerd verstaan?" Ek het so mooi gevra dat Hy ons sou beroep na die platteland, maar, waar daar bérge is, nie mynhope nie!

Hierdie was verseker die 7jaar van my lewe wat al my vooropgestelde idees sou uitdaag en my porseleinlagie, sou af"chip"!

Hier het ons baie seer beleef...mense se seer, ouers en kinders, mans en vrouens, oumas en oupas....en ook.....ons seer. Ek het hierdie mense, God se werktuie in my lewe, so bitter liefgekry...

Manuel Escorcio het oppad terug van 'n Kaaptoer, toe hy naby Glenharvie kom, nogal 'n baie raak beskrywing gegee van dié plek: "Hierdie is waar God se verf opgeraak het".

Een dag besluit ek om die droë klipperige heuwel, uit te klim. Dit was op een van my "lae dae".....
Gewoonlik het ek tussen die huisies gestap en dan na die klein huisies gekyk, kinders hoor huil, kleuters hoor lag en speel in die tuin, vroue sien wasgoed ophang, mans wat in hulle af skof grassny en buurvroue wat oor die draad staan en kuier, gade geslaan en gedink.... "Hemel, het God van my vergeet? Van my drome?"
Ons het 'n kleinerige Spar gehad, maar ons was dankbaar. Soms het die predikantsvrou sommer met 'n kortbroek oor die straat winkel toe gehardloop, kaalvoet. Dit sou nie in Menlyn Mall goed afgaan nie, sou dit?

.....Terug by die heuwel. Toe ek bo kom en vir 'n oomblik afkyk, sien ek seker die mooiste prentjie wat ek in al die tyd in die myndorpie gesien het: bome met huisies tussenin. Dit was "beautiful"!

Skielik het ek besef, dit is wat God my nog die hele tyd wou wys. As ek midde in die stryd en probleme my vaswoel, is dit grys en droog. Maar wanneer ek net één keer kies om van bo-af te kyk, verander my hele uitkyk. Dan word mynhope 'n groen landskap; word huisies tussen die bome 'n grasgroen village! Word al die seer 'n uitdaging wat bemeester word met 'n positiewe, lewegewende uitkyk op die lewe.

Dis hoe ek kyk, sien en beleef, wat my in 'n grysvaal myndorp, laat oorleef. God is die Een wat so na ons kyk....deur die bloed van Sy Seun, sien Hy al die potensiaal wat Hy in ons belê het!

Kyk op....bly afhanklik van Hom, kyk na binne....sien die uitdagings.....kyk af en sien die skoonheid van lesse geleer uit jou uitdagings!