’n Hart Van Waarheid

’n Hart Van Waarheid

“Dit is eers wanneer jy eerlik is, wanneer jy sê: Ek is nie ’n ster nie, ek is ‘n ambassadeur van die koninkryk,” dat jy hoop bring. As jy werklik invloed wil uitoefen, is dit eerlikheid wat jou relevansie gee.”

Wanneer ’n mens deur Wanda Bam se CV lees, kan dit nogal intimiderend vir ’n gewone sterfling wees – pastoor se dogter, gospelsangeres, televisie-aanbieder, outeur, hoof van die kunstedepartment by Moreletapark en tans aanbieder en programbestuurder by Kaapse Kansel, om maar net ’n paar te noem. Tog is sy baie eerlik oor die onvolmaaktheid van haar oënskynlik perfekte lewe. In haar boek,
Wilderniswenke vir Vroue, vertel sy van geweld in die huwelik, haar eerste man se selfdood, haar egskeiding vyf jaar gelede, en haar broer se dood. Maar, moet vir geen oomblik dink dat dít haar definieer nie. God het voorwaar alles nuut gemaak en word verheerlik deur die oorwinning en heling waarvan Wanda se lewe getuig. Ek het by Kaapse Kansel by haar gaan inloer.

Wanda, was jy altyd so oop en eerlik?
My ouers was in die bediening en ek dink ’n mens leer onbewustelik dat jy ’n verantwoordelikheidslagie moet handhaaf as jy in die publieke oog is of as jy ’n pastoor se kind is. My ma het altyd gesê: “Onthou net jy is ’n voorbeeld vir die gemeente se dogters.” Dit was altyd die refrein – wees perfek. Ek het dus eers later in my lewe geleer om eerlik met myself en met ander oor slegte dinge in my lewe te wees.

Jy sê jy het as kind ervaar dat jy perfek moet wees. Was jy bewus van die druk wat dit op jou geplaas het?
Nee, glad nie. Dit was van kleins af ingeburger. Tog het ek my kinders nie so grootgemaak nie, ek het altyd vir hulle gesê:” Dit is belangrik dat julle moet wees wie julle is.”

Was daar ’n punt in jou lewe waar jy besluit het jy gaan nie meer daarna streef om perfek te wees nie?
Dit het lank geneem. Met die skryf van Wildernis-wenke is ek vir die eerste keer met ’n oorsig oor my lewe gekonfronteer. Op agt was ek so lief vir God dat my hart wou bars as ek oor Hom dink; toe ek by lof-en-aanbiddingsbediening betrokke raak, was dit ’n verligting om daaraan uiting te kon gee en ek het altyd voorbeeldig gelewe, maar die Here het geweet hierdie dogtertjie wat so lief vir Hom is, gaan verkeerde keuses maak en alles behalwe perfek wees; Hy het egter ook geweet dit gaan my relevant maak.

Toe ek dus met my onvolmaaktheid gekonfronteer word, het ek pynlik besef ek is nie meer die ‘perfekte’ dogter [van God] nie. ’n Mens kliek nie jy word groot met ’n gevoel dat jy ’n voorbeeld moet stel nie, jy ontdek dít die dag wanneer jy ’n fout maak en jy ervaar dat die terugvoer van ander mense verander – dadelik. Vriende begin anders optree. Die kerk behandel jou anders. Daar is skielik ’n nuwe stel reëls wat geld. Dit alles sê vir jou: “Jy is nie oukei nie.” Dit is waar ek dit fel, hard en duidelik beleef het.

Het jy baie van hierdie tipe verwerping ervaar?
Nee, gelukkig nie. Ek het baie genade beleef van Radio Kansel se ouens en van ds. Dirkie van der Spuy; mense wat nog steeds in my geglo het.

Jy praat van die geweld in jou eerste huwelik asook jou egskeiding van jou tweede man. Watter positiewe lewenslesse kon jy hieruit leer?
Die gesinsgeweld was grotendeels as gevolg van my man se posttraumatiese stresversteuring (PTSV) weens dinge waaraan hy blootgestel is tydens sy diensplig. As gesin het ons die ‘pose’ gehou. Al twee my dogters is geleer om te lieg – ek sê dit soos dit is. Hulle is geleer dat hulle vir niemand kan vertel wat vanaand hier gebeur het nie.

Ek moes ’n punt bereik waar ek vir myself in die spieël kon kyk en sê: “Wat was my aandeel?” As jy dit nie kan doen nie, moet jy nie vir my sê jy het deur iets gewerk nie. Jy moet daar uitkom, en dan besef jy, daar is dinge wat jou kinders by jou aan-geleer het. Ek moes vir my dogters om vergifnis vra omdat ek hulle, in sekere opsigte, ‘verkeerde waardes’ geleer het. Dit is nooit aanvaarbaar as ’n man vir die eerste keer net hard aan jou vat nie; jy mag nooit trou omdat jy iemand nodig het nie; jy moenie jou man ‘nodig’ hê nie. Rolprente en liedjies leer ons: “Ek kan nie sonder jou lewe nie”; “You complete me”. Dit is ’n vals verwagting, ’n leuen.

As jou identiteit in jou man gevestig is, gaan jy met verwronge verwagting die huwelik in. As hy jou teleurstel, moet jy kan aangaan, as die vuishoue geval het, moet jy helder kan dink en hulp kry. Moenie jok daaroor nie, moenie dit wegsteek nie, kry hulp. Vir jouself en vir hom. 

Vertel ons van jou reis na heelheid?
Ek dink ’n fout wat mense dikwels maak, en wat ek gemaak het, nadat hulle geskei het, is om te vinnig by die genesing te wil uitkom. Jy wil inpas in die samelewing en voel soos ’n normale mens. Maar, ’n mens moet nooit die proses van gebrokenheid na herstel druk nie.

As jy skei, is jy in ’n roufase. Jy het nie net seergekry oor verbreekte vertroue, ens. nie. Jy neem afskeid van jou drome vir jou huwelik, vir jou gesin. Daardie rouproses kan vyf jaar lank neem, dit kan agt maande duur, dit hang eintlik af hoe lank jy in jou kop reeds afskeid begin neem het en hoe eerlik jy met jouself was.

Hoe het dit jou verhouding met God geraak?
Ek het geleer dat God net met my karakter kan werk, my reputasie maak nie vir Hom saak nie. Dit was ’n aha-oomblik toe ek besef dat al die voorbeeldig leef, God nooit beïndruk het nie. Ek kon voel hoe Hy dinge begin aanroer; goed wat ek in die oë moes kyk.

Hoe het die genesing gekom?
Daar was ’n aand toe ek voor die spieël gestaan en na myself gekyk het – kaal. Ek het vir die Here gesê: “Ek vergewe my man, ek vergewe die vrou wat my gemolesteer het toe ek nog ‘n dogtertjie was.” Ek het elkeen vergewe én ek het myself vergewe. Ek het vir die Here gesê: “Ek is jammer oor hoe ek myself afgebreek het. Dankie vir elke deeltjie van my liggaam waarna ek nou in die spieël kyk, hoe onvolmaak ookal, ek eer U vir my hele liggaam.”

Dit was ’n hele proses waardeur ek daardie aand is. God het my maagdelikheid in terme van my vrouwees weer herstel – hoe ek oor myself dink en praat. Daar was tye ná my egskeiding wanneer ek alleen in die woonstelletjie op my maag voor die Here gelê en gevra het: “Wys my wat die waarheid oor wat ek veronderstel is om te glo, oor wat U sê ek behoort te wees.”

God herstel integriteit. Die vrou by die put van Sigar is my gunstelingvrou in die Bybel. Die mense kon síen dat sy verander het. Vir my is dit haar maagdelikheid wat God herstel het. Wat is die kans? Sy kon nie eers tel hoeveel mans sy gehad het nie, maar haar maagdelikheid in haar vrouwees is herstel. En dít is wat haar anders laat lyk het. Sy is deur God aangeraak. Dan is niks van die smet en die pyn en die aanklag meer deel van jou nie.

Jou eie genesing het gelei tot die Heelvroukursus. Hoe het dit gebeur?
Alles wat ek beleef het in my reis na herstel, het ek net so in Heelvrou toegepas…Dit was weer die dag waarop my predikantman selfmoord gepleeg het. Ek het dit vir die soveelste keer weer beleef. Toe besluit ek: dit moet nou end kry. Ek het vir 17 dae lank na Ellel Ministries gegaan vir intense berading en bevryding. Daarna het ek Heelvrou begin skryf wat ek binne vyf dae voltooi het.

Wat behels Heelvrou?
Vrouens ontdek tydens so ’n kamp weer hulle waarheid: Wat het rêrig gebeur, wie is jy rêrig, wat is rêrig jou toekoms, wat steek jy weg wat hanteer moet word? Ons raak ontslae van ’n maskerhart en ontvang ’n hart van waarheid van die Here af. Die Here het my gewys dat ge-nesing in siel, liggaam en gees moet plaasvind. Heelvrou beteken dan ook algehele genesing en ook, om ’n heel vrou te word…

Daarom is daar byvoorbeeld ook ’n fiksheidsinstrukteur en ’n skoonheidsterapeut. Ons hanteer ook verhoudinge, vriendskappe (hoe om ’n goeie vriendin te wees, met watter tipe vrien-dinne jy jouself omring), hoe om ’n ouma te wees vir kinders uit gebroke huwelike, ens.

Wat van die skoonheids- en fiksheidsaspek, is dit regtig van belang?
Jy moet gesond leef, ’n goeie verhouding met jou tempel van God hê. Koester wat Hy vir jou gegee het. Jy kan nie sê jy aanvaar jouself, maar dan skeep jy jou liggaam af nie. Ek glo jou dan nie. Die Here gee vir jou één liggaam. Jy kry baie geleent-hede om Hom aan te neem en jou saak met Hom reg te maak, maar God gee jou een liggaam, as jy dit opmors, kan jy die Here prys so lank as wat jy wil, jy kan getuig soveel as wat jy wil, maar as jou liggaam jou los, het jy nie ’n dop waarin jy vervoer kan word sodat jy ’n verskil kan gaan maak nie. So, pas dit op!

Die feit is; as jy stukkend is, wíl jy nie oefen nie (hoewel sommige vroue weer oorboord gaan met oefening). Dit is belangrik om hulle voete daarbuite te kry en hulle aan te spoor om na hulle liggaam om te sien.

Destyds wou ek nie meer aangaan nie. Ek het teruggeklim in die bed nadat ek die kinders by die skool afgelaai het en dan die hele dag geslaap. Die Heilige Gees het my toe kom leer om met myself te praat. Hy het my aangemoedig om net op te staan en te gaan stap. Ek het vir myself gesê: “Ek het soveel deernis vir waar jy is, en ek is so trots op jou dat jy vasbyt en kies om te bly leef. Kom ons gaan stap nou. Dit gaan goed vir jou wees.” Ander dae het ek vir myself gesê: “Kom, net een been uit die bed. Dit is al, al kry jy vandag net een been uit; maak net daardie een tekkie vas.” En soos ek stap, het ek gesê: “Net nog een lamppaal verder, goed so! Jy het dit reggekry. Kyk net om jou, sien jy hoe mooi is alles?” Jy sê vir jouself wat jy eintlik lankal moes gehoor het.

Ons help vroue om weer moeite met hulleself te maak. Die Saterdagaand van die kamp is ’n deftige dinee waartydens die dames aandklere moet dra. Daar is soms vrouens wat nie eens meer grimering besit nie! Ons kry ’n vriendin om haar te grimeer; elkeen lyk op haar beste. Daarna hanteer ons seksualiteit en sensualiteit van die vrou. Dit is belangrik, omdat baie vrouens weens trauma, aspekte van hulle vrouwees afsny; met genesing vind die integrasie van siel, gees en liggaam weer plaas.

Watter eienskappe van Mark bewonder jy?
Hy het ’n baie standvastige karakter. Hy is elke dag dieselfde mens. Hy is altyd positief. Hy is die eerste mens wat bereid was om presies vir my te sê wat hy in my waarneem – wie ek werklik is. Hy is baie direk. Hy stap ’n nou pad met die Here, ’n linkerbreinpad. As ons gesê het ons gaan negeuur die aand bid vir reën, het hy sy alarm op sy foon gestel en negeuur kom haal hy my ongeag waarmee ek besig is en sê ons moet bid. Dit is wie hy is.

Wat is die boodskap waarmee jy Christene wil laat?
Die volle waarheid is wat waar is. Deur Sy wonde het daar vir jou genesing gekom en deur jou genesing bring jy genesing vir ander; maar as jy jou pyn toeskulp, kry niemand genesing nie. Dit wat jy geheim hou, behou mag oor jou. Ons moet die leuen vervang met waarheid, want dit is die teen-oorgestelde wat die vrede bring. Liefde teenoor haat, vergifnis teenoor onvergewensgesindheid.

Kontak Wanda by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. of skakel 084 018 1122 vir Heelvrouseminare.

 

Loading...
Loading...